skip to Main Content

Die Beweging van Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) streef daarna om ‘n ontwikkelende onderwysstelsel daar te stel wat ‘n kind die wêreld in stuur om met verantwoordelikheid sy Christelik Gereformeerde roeping in die samelewing te vervul.

Die Beweging van Christelik Volkseie Onderwys vebind hom daartoe om saam met sy Onderwysvennote aan sy kliënte en nageslag ‘n omvattende wêreldklas onderwysdiens te verskaf.

Die BCVO streef na:

  • ’n Bekostigbare kurrikulumdiens te ontwikkel, inwerking te stel en te bevorder.
  • ‘n Ondersteuningsdiens t.o.v. onder andere kurrikulum, vakadvies en opleiding van ‘n hoë standaarde wat gebaseer is op uitnemende onderwys.
  • Om hoë standaarde te bevorder en in stand te hou met ‘n nasorgdiens asook deurlopende interne monitering en moderering en leiding.
  • ‘n Effektiewe administratiewe stelsel en kommunikasie na CVO skole.
  • Administratiewe dienste aan kliënte wat regverdig, professioneel en van hoë integriteit is.
  • Goeie verhoudings na te streef met alle toepaslike rolspelers.

Dit gebeur in vandag se veeleisende, sekulêre wêreld, dat die samelewing kinders as vanselfsprekend beskou. Hulle is maar net daar. Onderwys, wat een van die fundamentele aspekte van hulle opvoeding is, word dikwels as die regering se verantwoordelikheid beskou.

Om hierdie rede is die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) in 1994 in die lewe geroep as ‘n alternatief vir staatsonderwys.  In die Beweging neem verbondsouers self verantwoordelikheid om die doopbelofte (kinders op te voed in die leer van die Bybel) na te kom.

Die Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys (BCVO) is die sambreelmaatskappy waarby CVO-skole geaffilieer is. Die BCVO lewer studiemateriaal, sowel as gekoördineerde sport- en kultuurgeleenthede op nasionale vlak, aan CVO-skole.

Christelik

Ons glo dat die Woord korrek vertolk word soos gevind in die drie formuliere van eenheid, te wete die Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. Daarom huldig ons hierdie skrifbeskouing. Ons neem ouers aan as lede wat in enige kerk is waarvan hierdie drie formuliere die belydenisgrondslag is. Hierdie uitleg van die Skrif word ook in die studiemateriaal wat in CVO skole gebruik word, weerspieël.

Kultuur

Ons glo dat die Vader volkere-verskeidenheid daargestel het. So ook vir ons as volk. Ons volk het in die besonder beslag gekry deur die Gereformeerde geloftes van die geskiedenis. Eerstens dié van Jan van Riebeeck op 6 April 1654 en dan 16 Desember 1838. Die handhawing en uitlewing van die Afrikaner se saak is vir ons ononderhandelbaar.

Onderwys

Die aard van ons onderwys, hoewel ons die staat se benaming van vakke en die kurrikulumindeling gebruik, onderskei ons van ander skole. Ons sillabusse het ons eie verrykte inhoud. Ons onderrig, behalwe dat dit streef na uitnemendheid op verskillende vlakke, is gefokus op kennis en insig.

Ons is tans besig met die ontwerp van ‘n stelsel waarin ons steeds, soos in die verlede, vir ‘n leerling die geleentheid wil gee om die beste te maak van die talente wat die Vader aan hom/haar gegee het. Daarom is ons besig (met die hulp uit die geledere van Afrikaanse universiteite) om ons kurrikulum so op te stel dat ons leerlinge só toegerus sal word dat geen oorbruggingskursusse nodig sal wees nie. Ons vestig ook ons aandag op geleenthede vir besonder begaafde leerlinge en dié wat verkies om ‘n spesiale rigting, bv. tegnies of landbourigting te volg.

Die waardes hierna is gelys in prioriteitsorde sodat dit benut kan word as ‘n rigtinggewende maatstaf by alle besluite deur die Direksie en personeel van die Maatskappy asook deur die individue betrokke by die lede van die Maatskappy.

Die waardestelsel is ook ‘n uitdrukking van die etos van die Maatskappy en moet as sodanig deur elke betrokkene eerbiedig en uitgedra word. Dit moet ook deur elke ouer en elke leerling aanvaar en onderskryf word. Diegene wat nie hulleself 100% daarmee kan assosieer nie, moet nietemin aanvaar dat die etos van die Beweging nie om hulle onthalwe aangepas en verander sal word nie.

  1. Christelik-Calvinisties-Gereformeerde aard en karakter wat die primêre opvoedingsgesag en verantwoordelikheid van verbondsouers erken.
    Hierdie waarde moet ook uitgeleef word deur ouers, byvoorbeeld deur lid te wees van ‘n kerk wat dit onderskryf asook in die opvoeding tuis.
  2. Volkseie skoolgemeenskap waar Moedertaalonderrig in Afrikaans gegee word. Volkseie kultuurgemeenskap word vir hierdie doeleindes omskryf as ‘n groep wat hul vereenselwig met die kultuur, geskiedenis en ideale, soos gedemonstreer deur die geloftes voor God soos wat op 6 April 1654, 11 Desember 1880 en 16 Desember 1838 elke jaar herdenk word.
    Die Volkseie kultuurgemeenskap as kultuuromgewing is primêr lojaal en verantwoordelik aan die kultuurgemeenskap van sy verbondsouers.
  3. Vertroue in en respek vir ons mense (personeel, ouers en kinders) met handhawing van integriteit en selfbeheer ooreenkomstig ons waardestelsel.
    Selfdissipline (selfbeheer) met handhawing van integriteit is die primêre bestuursmeganisme.
    Hierby word ingesluit aspekte soos eerlikheid, regverdigheid, redelikheid, openhartigheid, gebondenheid aan ondernemings, ens.
  4. Dankbaarheid teenoor God vir al die gawes en talente wat ons uit liefde vanuit sy versorgende hand ontvang het. Dankbaarheid teenoor ons medemens wat saam deel in die gawes van Godsdiens en volkseie kultuur.
    In die bestuur en die uitleef van ons skoolgemeenskap moet alle besluite, aksies en optrede spreek van dankbaarheid teenoor God.
  5. Handhawing van orde en dissipline en erkenning van gesag van ouers en Direksie.
    Alle gesag word primêr afgelei uit die Woord van God.
    Die uitoefening van gesag in die skoolgemeenskap word voortdurend getoets teen die vereistes van die waardestelsel.
  6. Uitnemende gehalte onderrig waardeur hoë standaarde gehandhaaf word.
    Die Maatskappy bly gerig op die optimale ontwikkeling van die kind se toekomspotensiaal met die ingesteldheid van voortdurende verbetering en uitbouing van dienste aan sy lede.
    Die BCVO moedig aktiewe, gesonde, kritiese en ondersoekende denke aan.
  7. Koste-effektiewe diens aan lede.
    Die Maatskappy en die lede word beheer deur ‘n Direksie van uitvoerende en nie-uitvoerende direkteure wat ingestel is op kliënt-tevredenheid. Dit is van kardinale belang dat lede en verbondsouers altyd moet voel soos gewaardeerde kliënte. Die Direksie en personeel kommunikeer openhartig met lede.

GESAGSTRUKTUUR

Verbondsouers het die primêre seggenskap oor die geldigheid en waarde van die inhoud van onderrig en opvoeding. Personeel moet te alle tye gerespekteer word in die uitvoering van hul professionele pligte. Wettige gesag mag onder geen omstandighede deur ‘n ouer, kind of onderwyser ondermyn word nie. Die omskrewe ordelike werkswyses en dissiplinêre kodes moet onder alle omstandighede nagevolg en eerbiedig word.

Die ordelike werkwyses wat geskep is vir die hantering van ontevredenheid en konflikte moet streng nagevolg word. Navrae en probleme moet by die Voorsitter van die Direksie en/of die Hoof Uitvoerende Beampte aangemeld word, sodat die saak behoorlike aandag kan geniet.

Die BCVO is ‘n geregistreerde Maatskappy sonder winsoogmerk wat ook as weldaadsorganisasie geregistreer is.

Daar word jaarliks ‘n Algemene Jaarvergadering gehou wat deur lede bygewoon word. ‘n Direksie van 11 lede word dan verkies wat na die belange van die lede omsien. Die Uitvoerende Hoof, Adjunk Uitvoerende Hoof en Hoof Onderrigaangeleenthede vorm die bestuur van die BCVO kantoor in Pretoria. ‘n Persoon met finansiële agtergrond en ondervinding hanteer die BCVO se finansies.
Die BCVO is georganiseer in ‘n aantal rade wat kortliks hieronder bespreek sal word. Elkeen van hierdie rade vervul ‘n spesifieke opdrag om sodoende die missie van die BCVO ten uitvoer te bring.

Die verhouding tussen ‘n CVO skool en die BCVO word gereël deur ‘n onderlinge diensooreenkoms. CVO skole word opgerig en bestuur deur ouers wie se geloofs- en kultuuroortuigings ooreenstem met die BCVO se waarstelsel en beleid. Skole het egter die outonomiteit om ‘n beperkte getal ouers wat van ander oortuiging is, maar tog hul kinders in die CVO-skole wil plaas, toe te laat. Daar is egter sekere belangrike reëls deur die BCVO se ledevergadering vasgestel wat in hierdie verband nagekom moet word.

Die BCVO Onderrigraad
Die BCVO-Onderrigraad funksioneer in terme van die Akte van Oprigting en  Beleidsdokumente en Algemene Jaarvergaderingbesluite van die BCVO onder direkte toesig van die BCVO Direksie en is onder meer verantwoordelik vir:

Die ontwikkeling en koördinering van alle onderrigaangeleenthede binne BCVO- skole vanaf pre-primêr tot en met graad 0 tot graad 12 gegrond op die Woord van God as onfeilbare bron van kennis en volgens die beginsels van die Christelik-volkseie onderwysmodel, soos verwoord in die toelatingsbeleid van die BCVO.

Die begronding en ontwikkeling van vakinhoude en vakonderrig met ‘n konsekwente Calvinisties-volkseie inslag.

Die daarstelling en voortdurende ontwikkeling van leerplanne, werkskemas, werkboeke en handboeke vir CVO skole.

Die verdere ontwikkeling en uitbouing van die CVO skoolmodel.

Die daarstelling en handhawing van hoë onderwysstandaarde.

Die daarstelling en instandhouding van vakkomitees vir elke vak asook die junior primêre fase.

Die hantering van alle kurrikulêre aangeleenthede vir en namens die BCVO.

Die ontwikkeling en verfyning van ‘n Christelike evalueringsbeleid en ‘n wetenskaplike evalueringstelsel vir toepassing, van graad 1 tot graad 12, in alle CVO skole.

Die ontwikkeling van ‘n eie CVO didaktiek en onderwysbenadering.

Die evaluering van skoolbestuur en vakonderrig by skole op aanvraag van die skool via die BCVO of op aanvraag van die BCVO self.

Die samesnoering tot ‘n hegte onderriggemeenskap van alle doserende personeel aan CVO skole, ‘n onderriggemeenskap wat onderrigbelange aan CVO skole bevorder met erkenning van die primêre opvoedingsgesag van verbondsouers oor hul kinders.

Elke streek, wys een CVO skoolhoof uit eie geledere aan om op die raad te dien. Die Uitvoerende Direkteur is, ex officio, volle lid van die Raad. Indien nie reeds verteenwoordig uit die geledere van genoemde skoolhoofde nie, benoem die voorsitter ‘n professioneel gekwalifiseerde persoon wat tans skoolhou by ‘n CVO-skool, om elk van die volgende belange groepe te verteenwoordig op die raad: hoërskool, laerskool, junior primêre fase, tale, geesteswetenskappe en natuurwetenskappe.

Die BCVO Sportraad

GRONDSLAG
In die beoefening van sport sal die Drie-enige God erken en geëer word as die Skepper, Heerser en Onderhouer van alles soos dit in die Bybel verwoord is en betroubaar uitgelê is in die drie Formuliere van Eenheid. Die Woord van God het goddelike en onfeilbare gesag en is die hoogste norm vir die ganse menslike lewe, ook vir sport en ontspanning.

DOELSTELLINGS

Die doelstellings van die Sportraad kan as volg uiteengesit word:

Om Christelike-volkseie opvoeding deur middel van sport te bevorder.

Om die Christelike beginsels deur woord en daad op Sportgebied uit te lewe.

Die Landswye BCVO-Sportraad ontwikkel en/of verbeter ‘n sportbedeling vir BCVO-Skole.

Om toe te sien dat ‘n gesonde balans tussen liggaam en gees gehandhaaf word.

Binne die BCVO beklee die akademie die toonaangewende plek en word sport beskou as ‘n bykomende deel van die opvoeding van ons kinders.

Om landswye sportgeleenthede van BCVO-Skole te koördineer en sportbyeenkomste te organiseer en te laat plaasvind.

Om BCVO-Skole in BCVO-Sportstreke in te organiseer.

Om leiding en hulp aan BCVO-Sportstreke en BCVO-Skole aangaande sportaangeleenthede te verskaf.

BCVO Kultuurraad

GRONDSLAG

Die grondslag van die BCVO-Kultuurraad berus op die Bybel en erken die volstrekte Oppergesag van die Drie-enige God as die Skepper, maar ook as ons Skepper.

Die BCVO-Kultuurraad funksioneer sedert 1995 as integrale deel van die BCVO

DOELSTELLINGS

Om te stry en te arbei vir die behoud, bevordering en uitbouing van ons kultuur in al sy fasette; wat insluit, maar nie beperk is tot: die  Afrikaanse taal, die Afrikaanse lied, tradisie, geskiedenis, volkspele, sang, letterkunde, skryfkuns, vertolkende en beeldende kuns.

Om die kultuuraangeleenthede van die BCVO en BCVO-skole te koördineer en landswye feeste, wedstryde en byeenkomste te reël en aan te bied in samewerking met die Streeksrade en instellings.

Om by die CVO-kinders ‘n liefde vir ons kultuur te kweek.

Om gesonde geestelike ontwikkeling van die CVO-kinders te bevorder.

Om in samewerking met die BCVO-kantoor, en –Direksie en alle ander rolspelers ‘n jaarprogram daar te stel.

Die kurrikulum van die BCVO word so saamgestel dat dit nie net aan meer as die minimum statutêre kwaliteitvereistes voldoen nie, maar met respek erken word deur die land se voorste universiteit, technikons en kolleges.

Die onlangse geskiedenis het gewys dat dit nie net op akademiese gebied is waar ons leerlinge ‘n voorsprong geniet nie, maar op alle gebiede. Omdat ons lidskole as ‘n verlengstuk van die gereformeerde ouerhuis dien, is die gebalanseerde opvoeding sigbaar in hul lewens en maak dit hulle uiters gesog in die beroepswêreld.

‘n Besondere voordeel van ons lidskole is die individuele aandag wat leerlinge kry as gevolg van die struktuur in CVO-skole. Die verhoudings tussen onderwyser/kind, ouer/jonger kinders en kameraadskap tussen ouer/onderwyser, is uniek aan ons skole.

Dit is ook sigbaar op sport en kultuurgebied waar nie net die hoogs begaafdes al die aandag kry nie, maar almal die geleentheid kry om deel te neem en sodoende die nodige selfvertroue ontwikkel. CVO skole neem, teen CVO skole deel, op streeks- en landwye vlak deel aan sportsoorte soos rugby, netbal, atletiek, krieket, landloop, skaak, tennis en ander sport.

Op kultuurgebied bou aktiwiteite soos prosa, poësie, musiek, drama en redenaarskompetisies op vanaf streeksvlak tot by ‘n landswye gala–geleentheid.

CVO skole binne BCVO verband geniet al die voordele van selfstandigheid wat net onafhanklike (privaat-) skole kan geniet om nie net moedertaalonderrig nie, maar ook eie aard van geloof en kultuurgemeenskap te handhaaf.  Omdat die BCVO nie op winsbejag gerig is nie, is dit moontlik vir lidskole om, ten spyte van harde ekonomiese werklikhede, ‘n bekostigbare privaat alternatief in stand te hou.

Die verskil in die lewe en toekoms van u Godgegewe geskenk en belangrikste prioriteit, kan nie in geld gemeet word nie!

Die hoë gehalte van CVO opvoedende onderrig blyk onder andere daaruit dat talle matrikulante al suksesvol by verskeie Suid-Afrikaanse universiteite en ander tersiêre opleidingsinstansies hul studie in rigtings soos medies, ingenieurswese, inligtingstegnologie, spraakterapie baie suksesvol voltooi het. Verskeie spog ook alreeds met merietebeurse en ander toekennings.

7.1.Die Toelatingsbeleid van CVO-skole staan op twee grondbeginsels:
7.1.1 Die Christelike Protestantse Geloof (Calvinisties-gereformeerd), gegrond op die Bybel soos uitgelê deur die drie belydenisskrifte (Drie Formuliere van Eenheid) te wete die Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls.
7.1.2 Die uitleef van die Afrikanerkultuur, in besonder die kultuurbeskouing dat kultuur die gehoorsaamheid aan die Bybelse kultuuropdrag is en dat die Afrikaner se uitlewing daarvan onder andere vergestalt word in die Gelofte van Desember 1838 en die herbevestiging daarvan in Desember 1880.

7.2.Toelatingsbeleid:
7.2.1 Dat die skool kinders toelaat wie se ouers die Christelik-protestantse geloofsoortuiging soos verwoord in die Drie Formuliere van Eenheid as persoonlike geloofsoortuiging bely en uitleef en dat alle ouers wel verbondsouers is. Indien ouers nie hieraan voldoen nie, kan hulle ‘n onderneming teken dat hulle aanvaar dat dit is hoe hulle kinders opgevoed sal word en dat hulle nie daarby sal inmeng om dit te verander nie. Sulke ouers sal ook nie stemreg hê oor maatskappy sake nie en sal ook nie op die Opvoedingsraad van die skool kan dien nie.
7.2.2 Dat die Doopbelofte as Verbondsgelofte deur ouers nagekom sal word en dat die kinders dienooreenkomstig ook in die skool volgens die Calvinisties-gereformeerde leer onderrig sal word, d.w.s. dat die onderwys daarvolgens ingerig sal word.
7.2.3 Dat die kind se reg tot moerdertaalonderrig erken word en derhalwe sal die voertaal en onderrigtaal van die skool Afrikaans wees.
7.2.4 Dat die kultuurgeskiedenis van die Afrikaner as taal- en kultuurgroep gedenk en eerbieding moet word.
7.2.5 Dat ouers punte 2.1, 2.2, 2.3  en  2.4  moet onderskryf en aktief bevorder.
7.2.6 Dat ouers gekeur en tot lede van die skoolvereniging toegelaat word, wat voldoen aan die vereistes soos hierbo vermeld.  Slegs kinders van gekeurde ouers word tot die skool toegelaat.  Hierdie lidmaatskap van die ouers aan die skoolvereniging geld slegs vir die duur van een akademiese jaar en alle ouers moet jaarliks heraansoek doen vir lidmaatskap.
7.2.7 Dat slegs kinders toegelaat word wat nie die dissipline en goeie orde van die skool sal ondermyn nie.

7.3. Verdere beleidsbepalings waaraan voldoen moet word:
7.3.1 Dat ouers die wettige bestuurs- en onderrigstrukture en kommunikasiekanale van die skool in terme van die skool se oprigtingsdokumente, aanvaar en te alle tye eerbiedig.
7.3.2 Dat ouers en kinders hulle onderwerp aan die skoolreëls en landswette.
7.3.3 Dat ouers alle finansiële verpligtinge soos deur die CVO-skool bepaal, stiptelik sal nakom.
7.3.4 Dat ouers lede word van die BCVO.

7.4. Aanstellingsvereistes vir onderwys- en administratiewe personeel.
Naas die vereiste akademiese en opvoedkundige kwalifikasies geld bogenoemde vereistes vir die toelating van ouers tot die skoolvereniging, mutatis     mutandis vir die aanstelling van onderwys- en administratiewe personeel. Geen uitsondering word toegelaat soos by ouers nie!

7.5. Definisiebepalings:
7.5.1“Volkseie” dui hier op die omvattende kultuur van die Afrikaner, m.a.w. sy ganse geestelike besittings insluitend die Afrikaanse taal.
7.5.2 “Ouers” omvat ‘n verwysing na die kind se biologiese ouers, aannemende ouers, grootouers, persone by wie die kind in pleegsorg is of enige persoon onder wie se direkte beheer en toesig die kind geplaas is en wie deur die bestuur van die skoolvereniging gekeur en bevind word aan die beginsels voldoen en geag word die ouer van die kind te wees.
7.5.3 “Verbondsouers” is gelowige ouers wie se kinders gedoop is as teken daarvan dat hulle as verbondskinders ook in God se Genadeverbond ingesluit is.
7.5.4 “Skoolvereniging” verwys afhandende van die bepaalde skool se gekose bestuursvorm, na die Maatskappy Sonder Winsoogmerk, Beslote Korporasie, Trust, Gemeenregtelike Vereniging of enige ander regsentiteit van watter aard ookal wat die betrokke CVO-skool bedryf.
7.5.5 “CVO-skool” verwys na ‘n Christelik-Volkseie Skool wat die beginsels van die toelatingsbeleid soos hierbo uiteengesit, streng toepas.
7.5.6 “BCVO” verwys na die Beweging vir Christelik-Volkseie Onderwys wat dien as ‘n Maatskappy Sonder Winsoogmerk.

Back To Top