TuisbladsyWie is onsPersoneelKontak onsNuusgebeureLys van skoleDokumenteVraestelleEksamenuitslaeFoto albumKalenderNuusbriewePoste beskikbaarTeken in

Webjoernaal

 

 

Inhoud: Agtergrond Rade Onderrigraad Sportraad Kultuurraad Bemarkingsraad

Meer inligting oor die BCVO


AGTERGROND


Dit gebeur dikwels in vandag se veeleisende, sekulêre wêreld, dat ons ons kinders as vanselfsprekend beskou. Hulle is maar net daar. Onderwys, wat een van die fundamentele aspekte van hulle opvoeding is, word dikwels as die regering se verantwoordelikheid beskou. Daarmee is niks verkeerd as almal dieselfde waardes, geloofsoortuigings en ideale vir u kind nastreef nie.

Indien die regering egter nie ‘n christelike grondslag het nie, of onderwys as ideologiese gereedskap gebruik, kan die onderwys wat die regering bied, uiters negatiewe gevolge inhou vir u kind. Om hierdie rede is die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) in 1994 in die lewe geroep as ‘n alternatief vir staatsonderwys. Verbondsouers neem dus self verantwoordelikheid om die doopbelofte ( onderrig in die leer van die Bybel) na te kom.

Die BCVO beskik oor die enigste Afrikaanse, onafhanklike, geregistreerde eksamenliggaam in die land. Die kurrikulum word dan ook so saamgestel dat dit nie net aan minimum statutêre kwaliteitvereistes voldoen nie, maar met respek erken word deur die land se voorste universiteite, technikons en kolleges. Sodoende verkry ons kinders toegang tot die internasionale- en beroepswêreld.

Die onlangse geskiedenis het dan ook gewys dat dit nie net op akademiese gebied is waar ons leerlinge ‘n voorsprong geniet nie. Omdat ons lidskole as ‘n verlengstuk van die gereformeerde ouerhuis dien, is die gebalanseerde opvoeding sigbaar in hul lewens en maak dit hulle uiters gesog in die beroepswêreld.

‘n Besondere voordeel van ons lidskole is die individuele aandag wat leerlinge kry as gevolg van die struktuur in CVO-skole. Die verhoudings tussen onderwyser/kind, ouer/jonger kinders en kameraadskap tussen ouer/onderwyser,is uniek aan ons skole. Ander droom net daarvan.

Dit is ook sigbaar op sport en kultuurgebied waar nie net die hoogs begaafdes al die aandag kry nie, maar almal die geleentheid kry om deel te neem en sodoende die nodige selfvertroue ontwikkel.

Lidskole neem, binne volkseie kultuurverband, op streeks- en landwye vlak deel aan sportsoorte soos rugby, netbal, atletiek, krieket,landloop,skaak ens. Op kultuur gebied bou aktiwiteite soos prosa, poësie, musiek, drama en redenaarskompetisies op via streeksverband na ‘n landswye gala – aand.

Alhoewel deel van die privaatskool omgewing, is die BCVO nie gerig op winsbejag nie. Dit maak dit moontlik vir lidskole om, ten spyte van harde ekonomiese werklikhede, ‘n bekostigbare privaat alternatief daar te stel.

Die verskil in die lewe en toekoms van u Godgegewe geskenk en belangrikste prioriteit, kan egter nie in geld gemeet word nie!

na bo

RADE


Die BCVO bestaan uit 'n aantal rade wat kortliks hieronder bespreek sal word. Elkeen van hierdie rade vervul 'n spesifieke opdrag om sodoende die missie van die BCVO ten uitvoer te bring.

 

Die BCVO Onderrigraad


Die BCVO-Onderrigraad funksioneer in terme van die Statute, Reglemente Beleidsdokumente en Algemene Jaarvergaderingbesluite van die BCVO onder direkte toesig van die BCVO Direksie en is onder meer verantwoordelik vir:

  • Die ontwikkeling en koördinering van alle onderrigaangeleenthede binne BCVO- skole vanaf pre-primêr tot en met graad 0 tot graad 12 gegrond op die Woord van God as onfeilbare bron van kennis en volgens die beginsels van die Christelik-volkseie onderwysmodel, soos verwoord in die toelatingsbeleid van die BCVO.

  • Die begronding en ontwikkeling van vakinhoude en vakonderrig met ‘n konsekwente Calvinisties-volkseie inslag.

  • Die daarstelling en voortdurende ontwikkeling van leerplanne, werkskemas, werkboeke en handboeke vir CVO skole.

  • Die verdere ontwikkeling en uitbouing van die CVO skoolmodel.

  • Die daarstelling en handhawing van hoë onderwysstandaarde.

  • Die daarstelling en instandhouding van vakkomitees vir elke vak en die junior primêre fase.

  • Die hantering van alle kurrikulêre aangeleenthede vir en namens die BCVO.

  • Die ontwikkeling en verfyning van ‘n Christelike evalueringsbeleid en ‘n wetenskaplike evalueringstelsel vir toepassing, van graad 1 tot graad 11, in alle CVO skole.

  • Die ontwikkeling van ‘n eie CVO didaktiek en onderwysbenadering.

  • Die evaluering van skoolbestuur en vakonderrig by skole op aanvraag van die skool via die BCVO of op aanvraag van die BCVO self.

  • Die samesnoering tot ‘n hegte onderriggemeenskap van alle doserende personeel aan CVO skole, ‘n onderriggemeenskap wat onderrigbelange aan CVO skole bevorder met erkenning van die primêre opvoedingsgesag van verbondsouers oor hul kinders.

Elke streek, wys een CVO skoolhoof uit eie geledere aan om op die raad te dien. Die Uitvoerende Direkteur is, ex officio, volle lid van die Raad. Indien nie reeds verteenwoordig uit die geledere van genoemde skoolhoofde nie, benoem die voorsitter ‘n professioneel gekwalifiseerde persoon wat tans skoolhou by ‘n CVO-skool, om elk van die volgende belange groepe te verteenwoordig op die raad: hoërskool, laerskool, junior primêre fase, tale, geesteswetenskappe en natuurwetenskappe.

 

na bo

 

Die BCVO Sportraad


GRONDSLAG

In die beoefening van sport sal die Drie-enige God erken en geëer word as die Skepper, Heerser en Onderhouer van alles soos dit in die Bybel verwoord is en betroubaar uitgelê is in die drie Formuliere van Eenheid.
Die Woord van God het goddelike en onfeilbare gesag en is die hoogste norm vir die ganse menslike lewe, ook vir sport en ontspanning.

DOELSTELLINGS

Die doelstelligs van die Sportraad kan as volg uiteengesit word:

  • Om Christelike-volkseie opvoeding deur middel van sport te bevorder.

  • Om die Christelike beginsels deur woord en daad op Sportgebied uit te lewe.

  • Die Landswye BCVO-Sportraad ontwikkel en/of verbeter ‘n sportbedeling vir BCVO-Skole.

  • Om toe te sien dat ‘n gesonde balans tussen liggaam en gees gehandhaaf word.
    Binne die BCVO beklee die akademie die toonaangewende plek en word sport beskou as ‘n bykomende deel van die opvoeding van ons kinders.

  • Om landswye sportgeleenthede van BCVO-Skole te koördineer en sportbyeenkomste te organiseer en te laat plaasvind.

  • Om BCVO-Skole in BCVO-Sportstreke te organiseer.

  • Om leiding en hulp aan BCVO-Sportstreke, BCVO-Skole en Huisskole aangaande sportaangeleenthede te verskaf.

GESAG EN GESAGSLYN

Die BCVO-Sportraad ontvang ‘n mandaat van die Algemene Jaarvergadering om algemene BCVO Sportbeleid te ontwikkel en toe te pas. Die raad word nie alleen deur die AJV en Direksie getaak om beleidsbesluite uit te voer nie maar het ook ‘n mandaat om ‘n algemene Sportbeleid te ontwikkel en vir goedkeuring aan die AJV en Direksie voor te lê.

Die gesagslyn van die BCVO-Sportraad funksioneer vanaf die Sporttaakspan van elke skool, via die Streeksportraad na die Landswye Sportraad. Alle geskille moet op die laagste moontlik vlak besleg word. Slegs indien dit nie besleg kan word nie word dit na die Landswye Sportraad verwys.

Die reëls van die Suid-Afrikaanse Nasionale Sportraad word gevolg by die beoefening van meeste sportsoorte. Die BCVO-Sportraad sal egter die uitsonderings aanwys.

na bo

 

Die BCVO-Kultuurraad


GRONDSLAG

Die grondslag van die BCVO-Kultuurraad berus op die Bybel en erken die volstrekte Oppergesag van die Drie-enige God as die Skepper, maar ook as ons Skepper.

Die BCVO-Kultuurraad funksioneer sedert 1995 as integrale deel van die BCVO.

DOELSTELLINGS

  • Om te stry en te arbei vir die behoud, bevordering en uitbouing van die Afrikanerkultuur in al sy fasette; wat insluit maar nie beperk is tot: die Afrikaanse taal, die Afrikaanse lied, tradisie, geskiedenis, volkspele, sang, letterkunde, skryfkuns, vertolkende en beeldende kuns.

  • Om die kultuuraangeleenthede van die BCVO en BCVO-skole te koördineer en landswye feeste, wedstryde en byeenkomste te reël en aan te bied in samewerking met die Streeksrade en instellings.

  • Om by die CVO-kinders ‘n liefde vir die Afrikaner se kultuur te kweek.

  • Om gesonde geestelike ontwikkeling van die CVO-kinders te bevorder.

  • Om in samewerking met die BCVO-kantoor, –Direksie en alle ander rolspelers ‘n jaarprogram daar te stel.

na bo

 

Die BCVO-Bemarkingsraad


BEGRONDING VAN DIE BEMARKINGSRAAD

Die BCVO skolebedeling is `n lig in `n onchristelike onderwyswêreld en daarom kan ons dit nie onder `n maatemmer wegsteek nie. Om Lukas 11:33 aan te haal: ”En niemand steek `n lamp op en sit dit in `n verborge plek of onder die maatemmer nie, maar op die hoogte, sodat die wat binnekom, die lig kan sien.” Ons as BCVO lede is dus nie net deur God Drie enig geroep om ons verbondsbelofte na te kom nie, maar ook ander Christenouers wat lou geraak het, te vermaan en te ondersteun om weer hierdie belofte gestand te doen.

Dit is ook uiters belangrik dat die rol van bemarking vanuit `n besigheidsperspektief besef moet word. Bemarking moet strategies beplan en deurgevoer word om die BCVO en CVO skole as maatskappye behoorlik in verantwoordelikheid as rentmeesters te bestuur.

DIE DOEL VAN DIE BEMARKINGSRAAD

Die doel van die Raad is om die bemarking van Christelik volkseie Onderwys, soos dit in die BCVO vergestalt word, op `n deurlopende grondslag intern (lidskole en lede) en ekstern te bevorder en te bemark. Lidmate en dooplidmate van die gereformeerde kerkfamilie wat die Afrikaner se kultuur koester is die primêre teikenmark.

na bo


   
Webwerf deur Ontowebmedia en Inligtingsdienste