PROSPEKTUS
1. Visie
2. Missie
3. Agtergrond
4. Waardestelsel
5. Organisasie en bestuur
6. Wat bied die BCVO deur geaffilieerde CVO skole
7. Lidmaatskapvereistes
8. Kontakbesonderhede
1. VISIE VAN DIE BCVO
Die Beweging van Christelik Volkseie Skole (BCVO) streef daarna om ‘n suiwer Christelik Volkseie onderwysstelsel daar te stel:
| • |
wat gebaseer is op die Christelik Gereformeerde geloof en die Afrikanerkultuur; |
| • |
wat bekostigbare en uitnemende kurrikulumdiens aan BCVO-Lidskole en toegelate opvoedkundige instansies verskaf deur middel van effektiewe administratiewe stelsels en –dienste en die handhawing van hoë kurrikulum, vakadviesdiens, eksaminering- en nasorgdienste op alle vlakke van die onderwys. |
2. MISSIE VAN DIE BCVO
2.1 Die Beweging van Christelik Volkseie Skole verskaf ‘n omvattende bekostigbare steundiens gerig op uitnemende CVO opvoedende onderwys.
- dit sluit kurrikulumdienste in wat ontwikkel en uitgebou word saam met sy Onderwysvennote.
2.2 Die BCVO sal in die proses streef na:
| • |
’n Bekostigbare kurrikulumdiens te ontwikkel, in werking te stel en te bevorder. |
| • |
‘n Ondersteuningsdiens t.o.v. kurrikulum, vakadvies, ens. met hoë standaarde vir uitnemende onderwys om hoë standaarde te bevorder en in stand te hou, asook deurlopende interne monitering, moderering en leiding. |
| • |
‘n Effektiewe administratiewe stelsel en Opleidingsprogram.
Administratiewe dienste aan kliënte wat professioneel en van hoë integriteit is. |
3. AGTERGROND
Dit gebeur in vandag se veeleisende, sekulêre wêreld, dat die samelewing kinders as vanselfsprekend beskou. Hulle is maar net daar. Onderwys, wat een van die fundamentele aspekte van hulle opvoeding is, word dan dikwels as die regering se verantwoordelikheid beskou.
Die regering van Suid-Afrika het nie ‘n christelike grondslag nie en onderwys word as ideologiese gereedskap gebruik op die patroon van kommunistiese 'heropvoeding'. In hierdie milieu kan die onderwys wat die regering bied, nie jou kind toerus om sy of haar potensiaal te vervul nie. Om hierdie rede is die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) in 1994 in die lewe geroep as ‘n alternatief vir staatsonderwys. In die beweging neem verbondsouers self verantwoordelikheid om die doopbelofte om kinders op te voed in die leer van die Bybel en ooreenkomstig die eie kultuurinhoude en –waardes van die ouerhuis na te kom. Die ouers het die onbetwisbare reg en plig daartoe as primêre opvoeders wat hul kinders beskerm en versorg. Hierdie reg word ook in internasionale konvensies erken.
Die Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys (BCVO) is die sambreelmaatskappy waarby CVO-skole geaffilieer is. Die BCVO lewer studiemateriaal, sowel as gekoördineerde sport- en kultuurgeleenthede op nasionale vlak, aan CVO-skole.
Christelik
Ons glo dat die Woord korrek vertolk word soos gevind in die drie formuliere van eenheid, te wete die Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. Daarom huldig ons hierdie skrifbeskouing. Hierdie uitleg van die Skrif word ook in die studiemateriaal wat in CVO skole gebruik word, weerspieël.
Volkseie
Ons glo dat die Vader die volkere-verskeidenheid daargestel het. So ook vir ons as volk. Ons Afrikanervolk het in die besonder beslag gekry deur sy kultuureie en eie geskiedenis. In die Afrikanergeskiedenis was die Gereformeerde geloftes bepalende momente nl. dié van Jan van Riebeeck op 6 April 1654, Bloedrivier 16 Desember 1838 en Paardekraal 1880 wat die Eerste Vryheidsoorlog voorafgegaan het. Ons volk word ook onderskei deur ons eie moedertaal Afrikaans en sy kultuurprestasies op die terrein van kuns, wetenskap en tegnologie. Die handhawing en uitlewing van ons kultuureie en eie identiteit is vir ons ononderhandelbaar.
Ons neem ouers aan as lede wat hierdie Christelik-volkseie oortuiging deel en lidmate is van kerke waar hierdie drie formuliere die belydenisgrondslag is. Lidmaatskap is onderhewig aan keuring.
Onderwys
Die aard van ons onderwys onderskei ons van alle ander skole. Ons sillabusse het ons eie verrykte inhoud en word nie deur staatsvoorskrifte en vakbenaminge gedomineer nie. BCVO het deurgaans geweier om ons verbondkinders aan die ondeurdagte eksperiment van uitkomsgebaseerde onderwys (UGO) te onderwerp. Na deeglike studie deur kundiges vir die BCVO is ook gedokumenteer hoe dat opvoedende onderwys van CVO teenoor UGO en die staat se kurrikulums staan. Die afbrekende inhoude van daardie staatskoolkurrikulums is deur staatsonderwys behou selfs na die erkenning van die mislukking van UGO. Daarom is ons onderrig, behalwe dat dit streef na uitnemendheid op verskillende vlakke, gefokus op kennis en insig en CVO-waardes en nie ‘uitkoms’gedrewe soos die volksvreemde regering dit wil hê nie.
Ons is tans besig met die ontwerp van ‘n stelsel waarin ons steeds, soos in die verlede, vir elke leerling die geleentheid wil gee om die beste te maak van die talente wat die Vader aan hom/haar gegee het. Daarom is ons besig (met hulp uit die geledere van Afrikaanse universiteite) om ons kurrikulum op te stel dat ons leerlinge só toegerus sal word en geen oorbruggingskursusse nodig sal wees nie. Ons vestig ook ons aandag op geleenthede vir besonder begaafde leerlinge en waar moontlik diegene wat verkies om ‘n spesiale rigting bv. tegnies of landbou te volg.
4. BCVO SE WAARDESTELSEL
Die waardes hierna is gelys in prioriteitsorde, sodat dit benut kan word as ‘n rigtinggewende maatstaf by alle besluite, deur die BCVO direksie, uitvoerende direkteure en personeel. Die waardestelsel is ook ‘n uitdrukking van die etos van die beweging en moet as sodanig deur elke lid en personeellid eerbiedig en uitgedra word. Dit moet ook deur elke ouer en elke leerling aanvaar en onderskryf word. Diegene wat nie 100% daarmee kan assosieer nie, moet dit nietemin aanvaar dat die etos van die beweging nie om hulle onthalwe aangepas en verander kan word nie.
| 1. |
Christelik-Calvinisties-Protestantse aard en karakter – wat primêre opvoedingsgesag en verantwoordelikheid van verbondsouers erken.
Hierdie waarde moet ook uitgeleef word deur ouers, byvoorbeeld deur lid te wees van ‘n kerk wat dit onderskryf asook in die opvoeding tuis. |
| |
|
| 2. |
Afrikaner-Volkseie skoolgemeenskap waar moedertaal-onderrig in Afrikaans gegee word.
‘n Afrikaner word vir hierdie doeleindes omskryf as ‘n persoon met Christelike-Protestantse, Westerse kultuur en toekomsverwagting, wat hom/haar vereenselwig met die Boere-Afrikaner se geskiedenis en ideale, soos gedemonstreer deur die stryders in die Groot Trek en Eerste- en Tweede Vryheidsoorloë, asook sy geloftes voor God soos wat ook op 16 Desember elke jaar herdenk word. |
| |
|
| Die skool as kultuuromgewing is primêr lojaal en verantwoordelik aan sy ouergemeenskap, wat as ‘n verbondsouer- en volkseie-gemeenskap, verantwoordelik is daarvoor dat die kinders deel word en deel vorm van die Afrikaner Christelik-volkseie gemeenskap. |
| |
|
| 3. |
Uitnemende gehalte onderrig waardeur hoë standaarde gehandhaaf word.
Ons bly gerig op die optimale ontwikkeling van die kind se toekomspotensiaal, met die ingesteldheid van voortdurende verbetering en uitbouing.
Die BCVO moedig aktiewe, gesonde, kritiese en ondersoekende denke aan. |
| |
|
| 4. |
Vertroue in en respek vir ons mense (personeel, ouers en kinders) met handhawing van integriteit en selfbeheer ooreenkomstig ons waardestelsel.
Selfdissipline (selfbeheer), met handhawing van integriteit, is die primêre bestuurs-meganisme. Hierby word ingesluit aspekte soos eerlikheid, regverdigheid, redelikheid en gebondenheid aan ondernemings ens. |
| |
|
| 5. |
Koste-effektiewe diens aan lede en skole
Die beweging word bestuur deur ‘n direksie met uitvoerende en nie-uitvoerende direkteure wat ingestel is op kliënt-tevredenheid. Dit is van kardinale belang dat die ouer altyd moet voel soos ‘n gewaardeerde kliënt. Dit geld ook vir enige besoeker wat hom in ons geledere of op ons terrein mag bevind. Die BCVO (direksie en personeel) kommunikeer met ouers en skole en hou hulle op hoogte van ontwikkelings. |
| |
|
| 6. |
Handhawing van orde en dissipline en erkenning van gesag van ouers en direksie
Alle gesag word primêr afgelei uit die Woord van God.
Die uitoefening van gesag in die word voortdurend getoets teen die vereistes van die waardestelsel. |
Die ledevergadering het die primêre seggenskap oor die geldigheid en waarde van die inhoud van onderrig en opvoeding. Leerkragte moet te alle tye gerespekteer word in dit wat hulle doen. Wettige gesag mag onder geen omstandighede deur ‘n ouer, kind of onderwyser ondermyn word nie. Die omskrewe ordelike werkswyses en dissiplinêre kodes moet onder alle omstandighede nagevolg en eerbiedig word. Die ordelike werkswyses wat geskep is vir die hantering van ontevredenheid en konflikte, moet streng nagevolg word. Navrae en probleme moet by die Dagbestuur van die Direksie aangemeld word, sodat die saak behoorlike aandag kan geniet.
5. ORGANISASIE EN BESTUUR
Die BCVO is ‘n geregistreerde Artikel 21-maatskappy sonder winsbejag.
Daar word jaarliks ‘n Algemene Jaarvergadering gehou wat deur lede bygewoon word. ‘n Direksie van 11 lede word dan verkies wat na die belange van die lede omsien. Die Uitvoerende hoof / kantoorhoof dien ampshalwe ook op die direksie. Die Kantoorhoof, Hoof van Onderrigaangeleenthede en Ontwikkelingsbestuurder vorm die bestuur van die kantoor. ‘n Persoon met finansiële agtergrond en ondervinding hanteer die BCVO se finansies. Die Ontwikkelingsbestuurder is verantwoordelik vir alle skakeling en bemarking van die BCVO.
Die BCVO is georganiseer in ‘n aantal rade wat kortliks hieronder bespreek sal word. Elkeen van hierdie rade vervul ‘n spesifieke opdrag om sodoende die missie van die BCVO ten uitvoer te bring.
Die verhouding tussen ‘n CVO skool en die BCVO word gereël deur 'n onderlinge diensooreenkoms. Volle nakoming van hierdie diensooreenkoms is 'n voorwaarde vir voortgesette lidmaatskap en lewering van dienste deur die BCVO. CVO skole word opgerig en bestuur deur ouers wie se geloofs- en kultuuroortuigings ooreenstem met die BCVO se waardestelsel en beleid. Skole het egter die outonomiteit om ‘n beperkte getal ouers wat van ander oortuiging is, maar tog hul kinders in die CVO-skole wil plaas, toe te laat. Daar is egter sekere belangrike reëls deur die BCVO se ledevergadering vasgestel wat in hierdie verband nagekom moet word.
5.1 Die BCVO Onderrigraad
Die BCVO-Onderrigraad funksioneer in terme van die Statute, Reglemente Beleidsdokumente en Algemene Jaarvergaderingbesluite van die BCVO onder direkte toesig van die BCVO Direksie en is onder meer verantwoordelik vir:
| • |
Die ontwikkeling en koördinering van alle onderrigaangeleenthede binne BCVO- skole vanaf pre-primêr tot en met graad 0 tot graad 12 gegrond op die Woord van God as onfeilbare bron van kennis en volgens die beginsels van die Christelik-volkseie onderwysmodel, soos verwoord in die toelatingsbeleid van die BCVO. |
| • |
Die begronding en ontwikkeling van vakinhoude en vakonderrig met ‘n konsekwente Calvinisties-volkseie inslag. |
| • |
Die daarstelling en voortdurende ontwikkeling van leerplanne, werkskemas, werkboeke en handboeke vir CVO skole. |
| • |
Die verdere ontwikkeling en uitbouing van die CVO skoolmodel. |
| • |
Die daarstelling en handhawing van hoë onderwysstandaarde. |
| • |
Die daarstelling en instandhouding van vakkomitees vir elke vak en die junior primêre fase. |
| • |
Die hantering van alle kurrikulêre aangeleenthede vir en namens die BCVO. |
| • |
Die ontwikkeling en verfyning van ‘n Christelike evalueringsbeleid en ‘n wetenskaplike evalueringstelsel vir toepassing, van graad 1 tot graad 11, in alle CVO skole. |
| • |
Die ontwikkeling van ‘n eie CVO didaktiek en onderwysbenadering. |
| • |
Die evaluering van skoolbestuur en vakonderrig by skole op aanvraag van die skool via die BCVO of op aanvraag van die BCVO self. |
| • |
Die samesnoering tot ‘n hegte onderriggemeenskap van alle doserende personeel aan CVO skole, ‘n onderriggemeenskap wat onderrigbelange aan CVO skole bevorder met erkenning van die primêre opvoedingsgesag van verbondsouers oor hul kinders. |
Elke streek, wys een CVO skoolhoof uit eie geledere aan om op die raad te dien. Die Uitvoerende Direkteur is, ex officio, volle lid van die Raad. Indien nie reeds verteenwoordig uit die geledere van genoemde skoolhoofde nie, benoem die voorsitter ‘n professioneel gekwalifiseerde persoon wat tans skoolhou by ‘n CVO-skool, om elk van die volgende belange groepe te verteenwoordig op die raad: hoërskool, laerskool, junior primêre fase, tale, geesteswetenskappe en natuurwetenskappe.
5.2 Die BCVO Sportraad
GRONDSLAG
In die beoefening van sport sal die Drie-enige God erken en geëer word as die Skepper, Heerser en Onderhouer van alles soos dit in die Bybel verwoord is en betroubaar uitgelê is in die drie Formuliere van Eenheid.
Die Woord van God het goddelike en onfeilbare gesag en is die hoogste norm vir die ganse menslike lewe, ook vir sport en ontspanning.
DOELSTELLINGS
Die doelstellings van die Sportraad kan as volg uiteengesit word:
| • |
Om Christelike-volkseie opvoeding deur middel van sport te bevorder. |
| • |
Om die Christelike beginsels deur woord en daad op Sportgebied uit te lewe. |
| • |
Die Landswye BCVO-Sportraad ontwikkel en/of verbeter ‘n sportbedeling vir BCVO-Skole. |
| • |
Om toe te sien dat ‘n gesonde balans tussen liggaam en gees gehandhaaf word. Binne die BCVO beklee die akademie die toonaangewende plek en word sport beskou as ‘n aanvullende deel van die opvoeding van ons kinders. |
| • |
Om landswye sportgeleenthede van BCVO-Skole te koördineer en sportbyeenkomste te organiseer en te laat plaasvind. |
| • |
Om BCVO-Skole in BCVO-Sportstreke te organiseer. |
| • |
Om leiding en hulp aan BCVO-Sportstreke, BCVO-Skole en Huisskole aangaande sportaangeleenthede te verskaf. |
5.3 BCVO Kultuurraad
GRONDSLAG
Die grondslag van die BCVO-Kultuurraad berus op die Bybel en erken die volstrekte Oppergesag van die Drie-enige God as die Skepper, maar ook as ons Skepper.
Die BCVO-Kultuurraad funksioneer sedert 1995 as integrale deel van die BCVO.
DOELSTELLINGS
| • |
Om te stry en te arbei vir die behoud, bevordering en uitbouing van die Afrikanerkultuur in al sy fasette; wat insluit maar nie beperk is tot: die Afrikaanse taal, die Afrikaanse lied, tradisie, geskiedenis, volkspele, sang, letterkunde, skryfkuns, vertolkende en beeldende kuns. |
| • |
Om die kultuuraangeleenthede van die BCVO en BCVO-skole te koördineer en landswye feeste, wedstryde en byeenkomste te reël en aan te bied in samewerking met die Streeksrade en instellings. |
| • |
Om by die CVO-kinders ‘n liefde vir die Afrikaner se kultuur te kweek. |
| • |
Om gesonde geestelike ontwikkeling van die CVO-kinders te bevorder. |
| • |
Om in samewerking met die BCVO-kantoor, –Direksie en alle ander rolspelers ‘n jaarprogram daar te stel. |
5.4 BCVO Bemarkingsraad
BEGRONDING VAN DIE BEMARKINGSRAAD
Die BCVO skolebedeling is `n lig in `n onchristelike onderwyswêreld en daarom kan ons dit nie onder `n maatemmer wegsteek nie. Om Lukas 11:33 aan te haal: ”En niemand steek `n lamp op en sit dit in `n verborge plek of onder die maatemmer nie, maar op die hoogte, sodat die wat binnekom, die lig kan sien.” Ons as BCVO lede is dus nie net deur God Drie enig geroep om ons verbondsbelofte na te kom nie, maar ook ander Christenouers wat lou geraak het, te vermaan en te ondersteun om weer hierdie belofte gestand te doen.
Dit is ook uiters belangrik dat die rol van bemarking vanuit `n besigheidsperspektief besef moet word. Bemarking moet strategies beplan en deurgevoer word om die BCVO en CVO skole as maatskappye behoorlik in verantwoordelikheid as rentmeesters te bestuur.
DIE DOEL VAN DIE BEMARKINGSRAAD
Die doel van die Raad is om die bemarking van Christelik volkseie Onderwys, soos dit in die BCVO vergestalt word, op `n deurlopende grondslag intern (lidskole en lede) en ekstern te bevorder en te bemark. Lidmate en dooplidmate van die gereformeerde kerkfamilie wat die Afrikaner se kultuur koester is die primêre teikenmark.
6. WAT BIED DIE BCVO DEUR GEAFFILIEERDE CVO SKOLE?
Die kurrikulum van die BCVO word so saamgestel dat dit nie net aan meer as die minimum statutêre kwaliteitvereistes voldoen nie, maar met respek erken word deur die land se voorste universiteite, technikons en kolleges.
Die onlangse geskiedenis het gewys dat dit nie net op akademiese gebied is waar ons leerlinge ‘n voorsprong geniet nie, maar op alle gebiede. Omdat ons lidskole as ‘n verlengstuk van die gereformeerde ouerhuis dien, is die gebalanseerde opvoeding sigbaar in hul lewens en maak dit hulle uiters gesog in die beroepswêreld.
‘n Besondere voordeel van ons lidskole is die individuele aandag wat leerlinge kry as gevolg van die struktuur in CVO-skole. Die verhoudings tussen onderwyser/kind, ouer/jonger kinders en kameraadskap tussen ouer/onderwyser, is uniek aan ons skole. Ander droom net daarvan.
Dit is ook sigbaar op sport en kultuurgebied waar nie net die hoogs begaafdes al die aandag kry nie, maar almal die geleentheid kry om deel te neem en sodoende die nodige selfvertroue ontwikkel. CVO skole neem, binne volkseie kultuurverband, op streeks- en landwye vlak deel aan sportsoorte soos rugby, netbal, atletiek, krieket, landloop, skaak, tennis, ens. Op kultuur gebied bou aktiwiteite soos prosa, poësie, musiek, drama en redenaarskompetisies op vanaf streeksvlak tot by ‘n landswye gala–aand.
CVO skole binne BCVO verband geniet al die voordele van selfstandigheid wat net onafhanklike (privaat-) skole kan geniet om nie net moedertaalonderrig nie, maar ook eie aard van geloof en kultuurgemeenskap te handhaaf. Omdat die BCVO nie gerig op winsbejag nie, is dit moontlik vir lidskole om, ten spyte van harde ekonomiese werklikhede, ‘n bekostigbare privaat alternatief in stand te hou.
Die verskil in die lewe en toekoms van u Godgegewe geskenk en belangrikste prioriteit, kan nie in geld gemeet word nie!
Leerlinge van CVO skole lê die eksamen af wat deur die Onafhanklike Afrikaanse Eksamen Raad aangebied word. Hierdie instelling bied eksamendienste aan verskeie privaatskool en tuisskool instansies.
Die Onafhanklike Afrikaanse Eksamenraad(OAER) is ‘n afsonderlike Artikel 21-maatskappy sonder winsbejag, wat by Umalusi geakkrediteer is om die Nasionale Senior Sertifikaat eksamen af te lê. Die OAER het uit die BCVO Eksamenraad ontwikkel en werk steeds nou met die BCVO saam.
Die hoë gehalte van CVO opvoedende onderrig blyk onder andere daaruit dat talle matrikulante wat deur die BCVO Eksamenraad en meer onlangs die OAER eksamen afgelê het, al suksesvol by verskeie Suid-Afrikaanse universiteite en ander tersiêre opleidingsinstansies hul studie in rigtings soos medies, ingenieurswese, inligtingstegnologie, spraakterapie ens. baie suksesvol voltooi het. Verskeie spog ook alreeds met merietebeurse en ander toekennings.
7. LIDMAATSKAPVEREISTES VAN CHRISTELIK-VOLKSEIE SKOLE
| 1. |
Die Toelatingsbeleid van CVO-skole staan op twee grondbeginsels: |
| 1.1 |
Die Christelike Protestantse Geloof (Calvinisties-gereformeerd), gegrond op die Bybel soos uitgelê deur slegs die drie belydenisskrifte (Drie Formuliere van Eenheid) te wete die Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls. |
| 1.2 |
Die uitleef van die Afrikanerkultuur, in besonder die kultuurbeskouing dat kultuur die gehoorsaamheid aan die Bybelse kultuuropdrag is en dat die Afrikaner se uitlewing daarvan onder andere vergestalt word in die Gelofte van Desember 1838 en die herbevestiging daarvan in Desember 1880. |
| |
|
| 2. |
Die Toelatingsbeleid is: |
| 2.1 |
Dat die skool slegs kinders toelaat wie se ouers die Christelik-protestantse geloofsoortuiging soos verwoord in die Drie Formuliere van Eenheid as persoonlike geloofsoortuiging bely en uitleef en dat alle ouers wel verbondsouers is. Indien ouers nie hieraan voldoen nie, kan hulle ‘n onderneming teken dat hulle aanvaar dat dit is hoe hulle kinders opgevoed sal word en dat hulle nie daarby sal inmeng om dit te verander nie. Sulke ouers sal ook nie stemreg hê oor maatskappysake nie en sal ook nie op die Opvoedingsraad van die skool kan dien nie. |
| 2.2 |
Dat die Doopbelofte as Verbondsgelofte en volle deur ouers nagekom sal word en dat die kinders dienooreenkomstig ook in die skool volgens die Calvinisties-gereformeerde leer onderrig sal word, d.w.s. dat die onderwys daarvolgens ingerig sal word. |
| 2.3 |
Dat die kind se reg tot moedertaalonderrig erken word en derhalwe sal die voertaal en onderrigtaal van die skool Afrikaans wees. |
| 2.4 |
Dat die kultuurgeskiedenis van die Afrikaner as taal- en kultuurgroep gedenk en eerbiedig moet word. |
| 2.5 |
Dat ouers punte 2.1, 2.2, 2.3 en 2.4 moet onderskryf en aktief bevorder. |
| 2.6 |
Dat slegs ouers gekeur en tot lede van die BCVO en CVO-skool toegelaat word, wat voldoen aan die vereistes soos hierbo vermeld. Hierdie lidmaatskap van die ouers geld slegs vir die duur van een akademiese jaar en alle ouers moet jaarliks heraansoek doen vir lidmaatskap.
|
| 2.7 |
Dat slegs kinders toegelaat word wat nie die dissipline en goeie orde van die skool sal ondermyn nie. |
| |
|
| 3. |
Verdere beleidsbepalings waaraan voldoen moet word:
|
| 3.1 |
Dat ouers die wettige bestuurs- en onderrigstrukture en kommunikasiekanale van die skool in terme van die skool se oprigtingsdokumente, aanvaar en te alle tye eerbiedig.
|
| 3.2 |
Dat ouers en kinders hulle onderwerp aan die skoolreëls en landswette. |
| 3.3 |
Dat ouers alle finansiële verpligtinge soos deur die CVO-skool bepaal, stiptelik sal nakom – wat lidmaatskapgeld van BCVO insluit. |
| 3.4 |
Dat ouers wat volle lede van die CVO-skool word ook moet aansoek doen vir BCVO-lidmaatskap. |
| |
|
| 4. |
Aanstellingsvereistes vir onderwys- en administratiewe personeel.
|
| |
Naas die vereiste akademiese en opvoedkundige kwalifikasies geld bogenoemde vereistes vir die toelating van ouers tot die skoolvereniging, mutatis mutandis vir die aanstelling van onderwys- en administratiewe personeel.
Geen uitsondering word toegelaat nie! |
| |
|
| 5. |
Definisiebepalings: |
| 5.1 |
“Volkseie” dui hier op die omvattende kultuur van die Afrikaner, m.a.w. sy ganse geestelike besittings insluitend die Afrikaanse taal. |
| 5.2 |
“Ouers” omvat ‘n verwysing na die kind se biologiese ouers, aannemende ouers, grootouers, persone by wie die kind in pleegsorg is of enige persoon onder wie se direkte beheer en toesig die kind geplaas is en wie deur die bestuur van die skoolvereniging gekeur en bevind word aan die beginsels voldoen en geag word die ouer van die kind te wees. |
| 5.3 |
“Verbondsouers” is gelowige ouers wie se kinders gedoop is as teken daarvan dat hulle as verbondskinders ook in God se Genadeverbond ingesluit is. |
| 5.4 |
“Skoolvereniging” of skool verwys afhangende van die bepaalde skool se gekose bestuursvorm, na die artikel 21-Maatskappy, Beslote Korporasie, Trust, Gemeenregtelike Vereniging of enige ander regsentiteit van watter aard ookal wat die betrokke CVO-skool bedryf. CVO-skole moet verkieslik artikel 21 maatskappye sonder winsbejag wees. |
| 5.5 |
“CVO-skool” verwys na ‘n Christelik-Volkseie Skool wat die beginsels van die toelatingsbeleid soos hierbo uiteengesit, streng toepas. |
| 5.6 |
“BCVO” verwys na die Beweging vir Christelik-Volkseie Onderwys wat dien as ‘n Artikel 21-Maatskappy bedryf word. |
8. KONTAKBESONDERHEDE
Fisiese adres:
Wapadrandgebou
2de Vloer
Glenwoodweg 64
Lynnwoodglen
Posadres:
Posbus 74544
Lynnwoodrif
0040
Tel: 012 365 3703
Faks: 012 365 3677
|