Nuusflits 8 – ATKV Senior Afrikaanse Olimpiade 2017
- Louis Boshoff van CVO Potgietersrus is Noord-Transvaal (Limpopo) wenner en ontvang R1000 prysgeld daarvoor.
- Hanro Schoeman van CVO Potgietersrus is 2de in Noord-Transvaal (Limpopo).
- Liezl van Schalkwyk van CVO Potgietersrus is 4de in Noord-Transvaal (Limpopo).
- Bernard Grobler van CVO-Skool Lichtenburg is 2de in Noordwes.
- Marna Ernst van Privaatskool Hoëveldrif vir CVO is onder die Top 20 in Oos-Transvaal (Mpumalanga).
- Louis Boshoff van CVO Potgietersrus is in die 2de plek nasionaal en verdien R3000 prysgeld daarmee.
- Hanro Schoeman van CVO Potgietersrus en Bernard Grobler van CVO-Skool Lichtenburg is ook onder die Top 100 Nasionaal.
Nuusflits 7 – Kunstefees
BCVO-leerlinge toon hulle kreatiwiteit!
Die kunsafdeling van die jaarlikse BCVO Kultuurfees het hierdie jaar weer wonderlike talent ontbloot. CVO leerlinge kry jaarliks geleentheid om aan die BCVO Kultuurfees deel te neem in verskeie afdelings, waaronder redenaars, toneel, voordragte, sang, musiek, literêre werk, beeldende kuns (wat skilder, beeldhou, ens. insluit), fotografie, kunsvlyt, ens. Leerlinge neem eers plaaslik deel by die 37 CVO skole landswyd. Die beste inskrywings dring deur na die Streeksrondte waar items weer beoordeel word. Hierdie jaar is ongeveer 1600 stukke op Streekvlak beoordeel. Die bestes van elke Streek dring dan deur na die Nasionale rondte waar elke inskrywing weer deur onafhanklike beoordelaars beoordeel word. Hierdie jaar het meer as 400 items as Streekwenners in ses kategorieë deur gedring, wat op nasionale vlak meegeding het.
Een van die beoordelaars, mev. Anne-Marie le Roux, het opgemerk dat daar hierdie jaar soveel meer mooi en kwaliteit stukke as in die verlede is en dat die kinders ware kuns gelewer het. As beoordelaar is dit vir my belangrik dat ʼn kind se eie handvaardigheid en tegniek so vroeg moontlik ontwikkel en gestimuleer word. As hulle tegnies vaardig raak, kan hulle later soveel makliker uitdrukking gee aan hulle idees sonder om te wonder watter metode of tegniek om te gebruik. Die kunsstuk moet ʼn bestaansreg van sy eie hê en nie net tegnieke demonstreer nie. Dit moet dus ʼn storie vertel en die kyker visueel trek.
Die belangrikheid daarvan om kuns te stimuleer in die oorvol skoolkurrikulum word so maklik onderskat. Kuns en musiek is gewoonlik van die vakke wat maklik en eerste uitgefaseer word as daar finansiële of tydsdruk is.
Kuns is universele kommunikasie sonder taalstrukture, spelling, leestekens en woordkeuses, dus ʼn manier van kommunikeer waar selfs die leerling met leerprobleme suksesvol kan wees. Dit strek oor taalgrense en is nie net ʼn goeie tydsverdryf nie. Dit stimuleer die brein om probleme op te los en keuses te maak. In Japan word die kreatiwiteit en inisiatief van entrepreneurs direk toegeskryf aan die belangrike rol wat Kuns in hulle skoolkurrikulum speel.
Danél van Wyk, een van die deelnemers, sê: “Kuns is soos my inkleurkryte en die lewe my inkleurboek. Ek neem nou al vier jaar kunsklasse. Dit was nog altyd vir my makliker om myself in prentjies uit te druk as in woorde. Kuns is interessant, want daar is so baie maniere om alles te doen. Kuns is kleurvol, selfs ‘n potloodskets, omdat jy dit donkerder, lig of self met patrone kan inkleur. As jy beheer oor jou hande het, kan jy enige iets doen.” Kuns bou verhoudinge en ontwikkel talente. Pieter van Schalkwyk sê dat sy ouma hom geleer skilder het en dat hy graag só tyd saam met haar spandeer. Met sy kuns kan hy sy talente wat God vir hom gegee het benut.
Kuns leer leerlinge om te waag, te probeer, inisiatief te neem. Luzaan van Schalkwyk sê sy gebruik dit as geleentheid om haar kreatiwiteit vry te stel en na sy die eerste skildery ingegee het, het sy besef hoe lekker dit is. Nou probeer sy elke jaar ten minste een skildery ingee vir beoordeling.
Navorsers wat die kreatiewe ontwikkeling in jong kinders bestudeer het, het bevind dat eksperimentering, verkenning, uitvinding en verbeelding die basis vorm vir hoër kognitiewe ordes soos sinteses, ondersoek, gevolgtrekkings en navorsing. Kritiese en kreatiewe denke moet hand-aan-hand ontwikkel word. Leerlinge kom ook agter dat daar meer as een moontlike oplossing is en dat alles nie net een regte oplossing het nie. Dit dra later by tot beter werknemers, want hulle het geleer om uit die boks te dink.
Akademiese prestasie verhoog na mate leerlinge se kreatiwiteit ontwikkel en gestimuleer word. Studies in Amerika het bevind dat leerlinge wat drie keer per week Kuns neem of met kuns werk, ʼn vier keer beter kans het om akademies uit te styg, veral in Wiskunde, Wetenskap en Tale. Dit is veral die vermoë om opstelle en gedigte te skryf wat merkbaar verbeter. Dié leerlinge se konsentrasie het ook verbeter. Hulle is meer ontspanne, het meer selfvertroue, is positief en doelgerig.
“Kuns is vir my soos vakansie. Dit laat my heerlik ontspan, veral saam met my kunsmaats. Ek neem al van Gr R af kuns. Ons kan nie wag vir elke jaar se kunstemas nie. My juffrou Marinda is die beste! Sy laat ons toe om te kies wat ons wil teken. Ek hou daarvan om altyd iets nuuts te probeer.
Ons werk met verskillende mediums, my gunsteling is akrielverf en potloodsketse. Hier in die Bo –Karoo waar ons bly, is dit maar vaal, maar kuns maak my lewe vol kleur. Ek hou daarvan om dinge in die natuur te teken, want dan sien ek altyd hoe uniek die Here alles geskep het. Kuns is die beste manier om vir die Here dankie te sê vir al die goeie dinge wat Hy oor my pad stuur”, aldus Anja van Wyk.
Die BCVO-Kultuurfees waar leerlinge teen mekaar deelneem in die voordra van gedigte, monoloë, toneel, kore, musiek, redenaars, ens. vind DV 18 en 19 Augustus 2017 in Lichtenburg plaas. Die wenners in die kunsafdelings sal dan ook hulle trofeë ontvang. BCVO wenners word bepaal deur die punte behaal op Streek- en Nasionale vlak in ag te neem.
Dit is baie belangrik om ’n kind holisties as mens te ontwikkel en te stimuleer, daarom is die Kultuurfees, waar leerlinge geleentheid kry om hulle kunstalente te ontwikkel, baie belangrik, sê mev. Lucia van Wyk, Uitvoerende Hoof van BCVO. Gee u kind dus geleentheid om kreatief te wees op welke manier ook al.
Nuusflits 6 van 2017 – Matriek
Oud-leerling gee raad deur Louis Cloete
Matrikulante weet seker teen hierdie tyd dat matriek ’n bietjie
anders as vorige jare is. Jy het meer werk en minder tyd daarvoor
as ooit tevore! Hierdie artikel probeer jou raad gee om die
aanpassing te maak en te presteer ten spyte van die uitdagings.
Eerstens moet ons weet wat is ons motivering en standaard vir
prestasie. Aangesien ons glo dat die Bybel ons lewens op elke
terrein moet rig, vind ons die antwoord daar.
God se eer eerste
Die Bybel is duidelik dat ALLES wat ons doen, tot eer
van die Here moet strek (1 Kor. 10:31; Rom. 12:1).
Selfs om te werk vir prestasie moet dus tot God se eer
en verheerliking strek. Dit is nie altyd maklik nie. Dit is baie
maklik om jou eie beuel te blaas. Juis daarom moet ons
bid vir God se hulp om nederig te bly.
God sien die hart
Mense sien wat voor oë is, maar God sien die hart aan
(1 Sam. 16:7). Prestasie word dus nie aan die aantal
onderskeidings gemeet nie, maar aan die gesindheid
van jou hart. Het jy werklik alles gegee tot eer van die
Here? Dan het jy beter presteer as daardie ander ou
wat beter punte behaal het sonder om God se eer
te soek.
Heilig die rusdag
God eis dat ons in ses dae al ons werk moet doen en
die sewende dag rus. Dit word ongelukkig deur baie
skoolkinders geïgnoreer. Hoekom is dit so belangrik?
Eerstens staan werk dikwels in die pad van alles wat
ons op ’n Sondag móét doen. Gaan lees maar wat sê
die Heidelbergse Kategismus in Sondag 38. Jy sal sien
dat as jy alles doen wat die Bybel sê jy op die rusdag
moet doen, jy nie tyd gaan hê vir werk nie en andersom.
Beplan dus só dat al jou werk teen Saterdagaand
klaar is.
Tweedens rus jy dan voor die volgende week begin.
Om die Sondag nie eens aan jou werk te dink nie,
maak jou uitgerus en vars vir die volgende week se werk.
Jy kan dan beter konsentreer en inneem by die skool.
As ons Skepper weet God dat ons elke sewende dag ’n
blaaskans nodig het! (Terloops: sorg ook dat jy genoeg
slaap; veral voor toetse en eksamens.)
Doen dinge
Moenie ophou met buitemuurse bedrywighede in matriek
nie. Wat jy buitemuurs op skool gedoen het, tel punte in
die keuring vir sommige kursusse. Dit is in elk geval baie
vervelig en onproduktief om net agter die boeke te sit.
Gaan skep af en toe asem met ’n lekker aktiwiteit!
Verstaan nou mooi …
Doen moeite om jou werk te verstaan. “Redeneer” met
jouself totdat dit 100% sin maak. Iets wat help daarmee,
is om iets interessant uit nuwe werk vir iemand te vertel.
Doen altyd jou huiswerk, want dit help jou om jou werk
beter te verstaan en te onthou.
Geniet dit!
Moenie skool as ’n straf sien nie. Leer daaruit iets
interessants oor die wêreld waarin ons woon of die tale
wat ons praat. Jy sal sien: dan onthou jy dit sommer ook
makliker en langer!
Nuusflits 5 van 2017
Naam | Van | Doopname | Gr | Skool | Dorp | Nasionaal |
Marna | Ernst | Margaretha Susanna | 11 | Privaatskool Hoëveldrif vir CVO | Bethal | 2 |
Carla | Lottering | Carla | 10 | CVO Vivo Skool | Vivo | 2 |
Anelga | Steyn | Anelga | 10 | CVO Vivo Skool | Vivo | 9 |
Marizane | Laufs | Marizane | 11 | CVO Skool Lichtenburg | Lichtenburg | 37 |
Elsje | Smit | Elsje | 10 | CVO Gromar Privaat Skool | Groblersdal | 52 |
Tersia-Mari | Eksteen | Tersia-Mari | 10 | CVO Gromar Privaat Skool | Groblersdal | 53 |
Nuusflits 4 van 2017
Christelik en Afrikaanse Onderwys – deur Eugéne Laäs April 2017
Die afgelope tyd word baie geskryf en gepraat oor die toekoms van Christelike onderwys in skole. Die onderwerp het sterk navore gekom nadat die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod) in 2014 ses skole voor die hof gedaag het vanweë hul Christelike godsdiensbeleid. Uit kommentare in die media is daar verdeeldheid oor die wenslikheid van godsdiens in skole al dan nie. Sommiges oordeel dat godsdiens die taak van ouers en die kerk is. Die skool se taak is akademies van aard en het nie tyd of die kundigheid om Godsdiensopvoeding te doen volgens die ouers se teologiese beskouings nie. Ouers kla dat onderwysers godsdiens onderwerpe aanraak waarvan hulle weinig kennis dra en meer verwarring veroorsaak as wat hulle godsdiensopvoeding kan doen.
Volgens ons Grondwet mag openbare skole wel godsdiensonderrig toelaat, op voorwaarde dat sulke onderrig volgens publieke riglyne geskied, dat dit op gelyke grondslag uitgevoer word en dat bywoning daarvan vry en na eie diskresie moet wees. Die Skolewet en nasionale beleid van 2003 lê sulke riglyne neer en bevestig beheerrade se mag om godsdiensbeleid in openbare skole te bepaal, met herhaling van die vereiste dat godsdiensonderrig en -praktyke in die skole vry en volgens eie keuse moet wees. Die uitspraak oor die saak van godsdiens in skole word gedurende Meimaand verwag en sal die uitspraak van groot belang wees vir almal vir wie Christelike Onderwys belangrik is. Ons waardes wat ons elke dag dryf en die mense maak wie ons is, is ten diepste gewortel in ons Christelike waardes soos naasteliefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22). Dit is waardes wat Suid-Afrika bitter nodig het, hoe beleef ons nie elke dag haat, selfsug, bedrog en selfs moord nie.
Volgens die Grondwet mag privaat skole met ‘n bepaalde godsdienstige en kultuur grondslag bedryf word. Hierdie skole mag die belange van ‘n bepaalde geloof en kultuur beoefen en bevorder. Dit is waar die BCVO skole volle bestaansreg het en word deur die grondwet van Suid-Afrika beskerm. Die BCVO skole het ‘n gereformeerde grondslag vir ouers wat erns maak met hulle doopbelofte in die gereformeerde kerke. Hiermee word onsekerheid oor watter teologiese grondslag in die BCVO skole geld uitgeskakel. Die tweede belangrike been is die volkseie been wat spesifiek gerig is op die Afrikaner ouers se kinders. Ons geskiedenis en kultuurerfenis is vir ons belangrik en kan ons dit erken, daarvan leer en ons eie identiteit as Afrikaners bevorder. Hiermee is BCVO skole geensins polities van aard nie, maar gewoon Christelik en Volkseie gerig. Ons beskou ons nie beter as ander of as meerderwaardig nie, maar in nederige afhanklikheid van God Drie-enig word ons kultuur-eie beoefen en uitgeleef.
Ons doen ‘n beroep op ouers en voornemende ouers om aan te sluit by BCVO skole en ons hande sterk te maak ter wille van ons kinders.
- 1
- 2