Nuusflits 6 van 2017 – Matriek
Oud-leerling gee raad deur Louis Cloete
Matrikulante weet seker teen hierdie tyd dat matriek ’n bietjie
anders as vorige jare is. Jy het meer werk en minder tyd daarvoor
as ooit tevore! Hierdie artikel probeer jou raad gee om die
aanpassing te maak en te presteer ten spyte van die uitdagings.
Eerstens moet ons weet wat is ons motivering en standaard vir
prestasie. Aangesien ons glo dat die Bybel ons lewens op elke
terrein moet rig, vind ons die antwoord daar.
God se eer eerste
Die Bybel is duidelik dat ALLES wat ons doen, tot eer
van die Here moet strek (1 Kor. 10:31; Rom. 12:1).
Selfs om te werk vir prestasie moet dus tot God se eer
en verheerliking strek. Dit is nie altyd maklik nie. Dit is baie
maklik om jou eie beuel te blaas. Juis daarom moet ons
bid vir God se hulp om nederig te bly.
God sien die hart
Mense sien wat voor oë is, maar God sien die hart aan
(1 Sam. 16:7). Prestasie word dus nie aan die aantal
onderskeidings gemeet nie, maar aan die gesindheid
van jou hart. Het jy werklik alles gegee tot eer van die
Here? Dan het jy beter presteer as daardie ander ou
wat beter punte behaal het sonder om God se eer
te soek.
Heilig die rusdag
God eis dat ons in ses dae al ons werk moet doen en
die sewende dag rus. Dit word ongelukkig deur baie
skoolkinders geïgnoreer. Hoekom is dit so belangrik?
Eerstens staan werk dikwels in die pad van alles wat
ons op ’n Sondag móét doen. Gaan lees maar wat sê
die Heidelbergse Kategismus in Sondag 38. Jy sal sien
dat as jy alles doen wat die Bybel sê jy op die rusdag
moet doen, jy nie tyd gaan hê vir werk nie en andersom.
Beplan dus só dat al jou werk teen Saterdagaand
klaar is.
Tweedens rus jy dan voor die volgende week begin.
Om die Sondag nie eens aan jou werk te dink nie,
maak jou uitgerus en vars vir die volgende week se werk.
Jy kan dan beter konsentreer en inneem by die skool.
As ons Skepper weet God dat ons elke sewende dag ’n
blaaskans nodig het! (Terloops: sorg ook dat jy genoeg
slaap; veral voor toetse en eksamens.)
Doen dinge
Moenie ophou met buitemuurse bedrywighede in matriek
nie. Wat jy buitemuurs op skool gedoen het, tel punte in
die keuring vir sommige kursusse. Dit is in elk geval baie
vervelig en onproduktief om net agter die boeke te sit.
Gaan skep af en toe asem met ’n lekker aktiwiteit!
Verstaan nou mooi …
Doen moeite om jou werk te verstaan. “Redeneer” met
jouself totdat dit 100% sin maak. Iets wat help daarmee,
is om iets interessant uit nuwe werk vir iemand te vertel.
Doen altyd jou huiswerk, want dit help jou om jou werk
beter te verstaan en te onthou.
Geniet dit!
Moenie skool as ’n straf sien nie. Leer daaruit iets
interessants oor die wêreld waarin ons woon of die tale
wat ons praat. Jy sal sien: dan onthou jy dit sommer ook
makliker en langer!