skip to Main Content

Nuusflits 4 van 2017

Christelik en Afrikaanse Onderwys – deur Eugéne Laäs April 2017

Die afgelope tyd word baie geskryf en gepraat oor die toekoms van Christelike onderwys in skole. Die onderwerp het sterk navore gekom nadat die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod) in 2014 ses skole voor die hof gedaag het vanweë hul Christelike godsdiensbeleid.  Uit kommentare in die media is daar verdeeldheid oor die wenslikheid van godsdiens in skole al dan nie.  Sommiges oordeel dat godsdiens die taak van ouers en die kerk is. Die skool se taak is akademies van aard en het nie tyd of die kundigheid om Godsdiensopvoeding te doen volgens die ouers se teologiese beskouings nie. Ouers kla dat onderwysers godsdiens onderwerpe aanraak waarvan hulle weinig kennis dra en meer verwarring veroorsaak as wat hulle godsdiensopvoeding kan doen.

Volgens ons Grondwet mag openbare skole wel godsdiensonderrig toelaat, op voorwaarde dat sulke onderrig volgens publieke riglyne geskied, dat dit op gelyke grondslag uitgevoer word en dat bywoning daarvan vry en na eie diskresie moet wees. Die Skolewet en nasionale beleid van 2003 lê sulke riglyne neer en bevestig beheerrade se mag om godsdiensbeleid in openbare skole te bepaal, met herhaling van die vereiste dat godsdiensonderrig en -praktyke in die skole vry en volgens eie keuse moet wees. Die uitspraak oor die saak van godsdiens in skole word gedurende Meimaand verwag en sal die uitspraak van groot belang wees vir almal vir wie Christelike Onderwys belangrik is. Ons waardes wat ons elke dag dryf en die mense maak wie ons is, is ten diepste gewortel in ons Christelike waardes soos naasteliefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22). Dit is waardes wat Suid-Afrika bitter nodig het, hoe beleef ons nie elke dag  haat, selfsug, bedrog en selfs moord nie.

Volgens die Grondwet mag privaat skole met ‘n bepaalde godsdienstige en kultuur grondslag bedryf word. Hierdie skole  mag die belange van ‘n bepaalde geloof en kultuur beoefen en bevorder. Dit is waar die BCVO skole volle bestaansreg het en word deur die grondwet van Suid-Afrika beskerm. Die BCVO skole het ‘n gereformeerde grondslag vir ouers wat erns maak met hulle doopbelofte in die gereformeerde kerke. Hiermee word onsekerheid oor watter teologiese grondslag in die BCVO skole geld uitgeskakel. Die tweede belangrike been is die volkseie been wat spesifiek gerig is op die Afrikaner ouers se kinders. Ons geskiedenis en kultuurerfenis is vir ons belangrik en kan ons dit erken, daarvan leer en ons eie identiteit as Afrikaners bevorder. Hiermee is BCVO skole geensins polities van aard nie, maar gewoon Christelik en Volkseie gerig. Ons beskou ons nie beter as ander of as meerderwaardig nie, maar in nederige afhanklikheid van God Drie-enig word ons kultuur-eie beoefen en uitgeleef.

Ons doen ‘n beroep op ouers en voornemende ouers om aan te sluit by BCVO skole en ons hande sterk te maak ter wille van ons kinders.

Back To Top