Agtergrond
Die wortels van die OAER is ingebed binne die Beweging vir Christelike Volkseie Onderrig (BCVO).
Die BCVO het 'n eksamenraad tot stand gebring met die doel om 'n selfstandige Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen af te neem waar CVO norme gerespekteer word. In 1996 word die BCVO eksamenraad amptelik erken as eksamineringsliggaam deur die SA-Sertifiseringsraad (SAFSERT).
Die nuutgevestigde UMALUSI het sedert 2002 SAFSERT se rol in hierdie verband oorgeneem.
Die BCVO-Eksamenraad het van die begin af 'n omvattende diens gelewer, onder meer die opstel van vraestelle en die goedkeuring daarvan deur Safsert/Umalusi aangewysde moderatore, die afronding van reëlings vir die afneem, nasien en administrasie van die BCVO se Senior Sertifikaateksamen. Die eerste BCVO eksamen is einde 1997 by CVO-skole afgeneem en kandidate het hulle Senior Sertifikate ontvang wat oral deur Suid-Afrika en selfs in die wêreld erken en aanvaar word.
Matrikulante wat universiteit vrystelling ontvang het, het al suksesvol by verskeie Suid-Afrikaanse universiteite en ander tersiêre opleidingsinstansies hul studie in rigtings soos medies, ingenieurswese, inligtingstegnologie en spraakterapie voltooi en ook reeds talle merietebeurse en ander toekennings verwerf.
Gedurende 2008 is 'n nuwe Artikel 21-maatskappy, die Onafhanklike Arikaanse Eksamenraad (OAER), gestig om die eksamendienste by die BCVO, wat primêr 'n opvoedkundige liggaam is, oor te neem. Die OAER se eksamens word opgestel aan die hand van die BCVO se leergange wat aan die vereistes van Umalusi vir sertifisering van die OAER-eksamenuitslae voldoen.
Vir die afgelope 13 jaar was daar aansienlike groei in die getal kandidate wat die Senior Sertifikaat eksamens van die OAER geskryf het. In 1997 is die eerste Senior Sertifikaat-eksamen deur 38 kandidate afgelê. In 2009 skryf 593 kandidate die OAER se Nasionale Senior Sertifikaat eksamen by 70 sentrums wat dwarsoor die land, selfs in Namibië en in die buiteland, versprei is.
|