Personeel Kalender

 

 

   

Prospektus

1. Visie
2. Missie
3. Doel van die OAER
4. Geskiedenis van die OAER
5. Watter diens lewer die OAER
6. Kantoor organisasie
7. Finansies
8. Aansoeke
9. Kontakbesonderhede

1. VISIE VAN DIE OAER

Die Onafhanklike Afrikaanse Eksamenraad (OAER) streef daarna om die onbetwiste leier in die lewering van eksamendienste aan skole in Suid-Afrika te wees.

2. MISSIE VAN DIE OAER

Die Onafhanklike Afrikaanse Eksamenraad (OAER) se taak is om aan sy kliënte ‘n uitnemende eksamendiens te verskaf deur:

‘n bekostigbare eksamendiens te lewer,
‘n eksamendiens met hoë standaarde, gebaseer op uitnemende vraestelle en nasorgdiens, deurlopende interne monitering en leiding tydens eksterne moderering,
onkreukbare integriteit en sekuriteit rondom die hantering van vraestelle en puntestate,
effektiewe administratiewe stelsels wat binne die raamwerk van Christelike-Volkseie Onderwys voldoen aan die vereistes soos deur die Onafhanklike Sertifiseringsliggaam in Suid-Afrika (Umalusi) gestel,
administratiewe dienste aan kliënte wat regverdig, professioneel en van hoë integriteit is,
optrede teenoor en rapportering aan sy kliënte wat getuig van ‘n waardestelsel eie aan die etos van die Beweging van Christelike-Volkseie Onderwys.


3. DIE DOEL VAN DIE OAER

Die doel en die hoofbesigheid van die OAER is vervat in die Akte van Oprigting van die Maatskappy wat soos volg lees:

“Om deur die medium Afrikaans, eksamen, assessering, akkreditering en sertifisering, basiese en verdere onderwys en opleiding van die hoogste standaard en integriteit, gegrond op ‘n Calvinisties gereformeerde lewens-, wêreld- en Afrikaner-kultuurbeskouing beskikbaar te stel aan enige kandidaat wat deur medium van Afrikaans geëksamineer en geassesseer wil word en om aldus enige kandidaat vir taalvaardigheid in enige ander bykomstige tale ook te eksamineer en te assesseer.”

Die hoofdoelstelling van die OAER (Maatskappy) is om die doel wat die hoofbesigheid beskryf, soos hierbo uiteengesit, te bevorder.

Aanvullende doelstellings:

Om die kwaliteitsversekering te doen wat benodig word vir die daarstelling van eksamen, assessering, akkreditering en sertifisering van die hoogste standaard en integriteit.
Om ‘n funksionele Eksamenraad te wees om sodanige eksaminering, assessering, akkreditering en sertifisering te fasiliteer en uit te voer.


4. GESKIEDENIS VAN DIE OAER

Die wortels van die OAER is ingebed binne die Beweging vir Christelike Volkseie Onderrig (BCVO). Die BCVO het 'n eksamenraad tot stand gebring met die doel om 'n selfstandige Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen af te neem waar CVO norme gerespekteer word. In 1996 word die BCVO eksamenraad amptelik erken as eksamineringsliggaam deur die SA-Sertifiseringsraad (SAFSERT).

Die nuutgevestigde UMALUSI het sedert 2002 SAFSERT se rol in hierdie verband oorgeneem.

Die BCVO-Eksamenraad het van die begin af 'n omvattende diens gelewer, onder meer die opstel van vraestelle en die goedkeuring daarvan deur Safsert/Umalusi aangewysde moderatore, die afronding van reëlings vir die afneem, nasien en administrasie van die BCVO se Senior Sertifikaateksamen. Die eerste BCVO eksamen is einde 1997 by CVO-skole afgeneem en kandidate het hulle Senior Sertifikate ontvang wat oral deur Suid-Afrika en selfs in die wêreld erken en aanvaar word.

Matrikulante wat universiteit vrystelling ontvang het, het al suksesvol by verskeie Suid-Afrikaanse universiteite en ander tersiêre opleidingsinstansies hul studie in rigtings soos medies, ingenieurswese, inligtingstegnologie en spraakterapie voltooi en ook reeds talle merietebeurse en ander toekennings verwerf.

Gedurende 2008 is 'n nuwe Artikel 21-maatskappy, die Onafhanklike Arikaanse Eksamenraad (OAER), gestig om die eksamendienste by die BCVO, wat primêr 'n opvoedkundige liggaam is, oor te neem. Die OAER se eksamens word opgestel aan die hand van die BCVO se leergange wat aan die vereistes van Umalusi vir sertifisering van die OAER-eksamenuitslae voldoen.

Vir die afgelope 13 jaar was daar aansienlike groei in die getal kandidate wat die Senior Sertifikaat eksamens van die OAER geskryf het. In 1997 is die eerste Senior Sertifikaat-eksamen deur 38 kandidate afgelê. In 2009 skryf 593 kandidate die OAER se Nasionale Senior Sertifikaat eksamen by 70 sentrums wat dwarsoor die land, selfs in Namibië en in die buiteland, versprei is.

5. WATTER DIENS LEWER DIE OAER?

Die OAER stel eksaminatore en interne moderatore aan om vraestelle op te stel. Daar word van eksaminatore verwag om die etos van die OAER, soos in die akte van oprigting te verwoord, in die vraestelle te weerspieël. Die hele proses van opstel, interne en eksterne moderering, druk en verspreiding van vraestelle word sorgvuldig bestuur om die standaard, kwaliteit en integriteit van die vraestelle te verseker.

Die OAER keur en registreer kandidate wat die Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen deur OAER wil aflê. Waar nodig moet toelatingstoetse afgelê word, voordat registrasie kan plaasvind. Bewys van die werk wat geëvalueer is vir die samestelling van jaarpunte moet deur die jaar op vooraf bepaalde datums voorgelê word vir moderering.

Eksamensentrums wat aan vereistes voldoen, word geregistreer. Eksamenkommissarisse en toesighouers word opgelei en kandidate word ingedeel by eksamensentrums.

Alle vraestelle word gemerk by 'n nasiensentrum onder toesig van die OAER. Riglyne word noukeurig toegepas om die akkuraatheid, eenvormigheid en korrektheid van die nasienproses te verseker. OAER maak voorsiening vir die hernasien van vraestelle onder sekere omstandighede.

Alle punte, jaarpunte en eksamenpunte, word by die OAER kantore verwerk volgens neergelegde voorskrifte. OAER uitslae word gelyktydig met ander eksamen instansies bekend gemaak op 'n datum soos deur die Minister van Onderwys bepaal.

6. KANTOOR ORGANISASIE

Die OAER word deur ‘n Hoof Uitvoerende beampte (kantoorhoof) bestuur. Die Eksamenhoof word deur ‘n Eksamenkoördineerder bygestaan. Administratiewe personeel hanteer al die administrasie en vaslegging van punte. ‘n Ontwikkelingsbestuurder is verantwoordelik vir die bemarking en skakeling van die OAER. ‘n Persoon met finansiële agtergrond en ondervinding hanteer die OAER se finansies.

Die kantoorhoof en Ontwikkelingsbestuurder vorm die bestuur van die OAER.

7. FINANSIES

Die OAER is 'n artikel 21 maatskappy en lewer dus dienste teen koste sonder winsbejag. Enige surplusse in 'n jaar word terug geploeg in die maatskappy.

8. AANSOEKE

SKRYF sommer nou in vir die OAER EKSAMEN

Alle aansoeke moet deur middel van ‘n amptelike aansoek op ‘n voorgeskrewe aansoekvorm geskied. Suksesvolle aansoekers sluit ‘n ooreenkoms met die OAER. Alle aansoeke is onderhewig aan die goedkeuring van die Eksamenhoof. Toelating kan onderhewig wees aan die slaag van ‘n toelatingseksamen.

Enige persoon kan aansoek doen om die OAER eksamen af te lê, maar moet kennis neem dat:

Die OAER streng aan Umalusi se kwaliteitvereistes voldoen. Dit sluit ondermeer in portefeuljes (versameling van bewyse van werk wat deur die jaar geëvalueer is en deel vorm van die jaarpunt), moderering en lewering van graad 10 en graad 11 bevorderingsbewyse .
Alle vraestelle word in ooreenstemming met die Grondslag van die OAER opgestel, aan die hand van die BCVO leergang.


9. KONTAK ONS!

Fisiese adres: Posadres:
Wapadrantgebou Posbus 74 544
Glenwoodweg 64 Lynnwoodrif
Lynnwood Glen 0040
Pretoria
0081

Tel: 012 365 3703
Faks: 012 365 3677